Die sprong van kindwees na tiener kan soms baie oorweldigend wees. Leerders was gewoond om die oudstes te wees in die huidige skool en dan moet hulle die skuif maak na ‘n groter omgewing waar hulle weer moet aanpas van vooraf. Adolessensie word gekenmerk deur aanpassings soos veranderde liggaamlike voorkoms en ontwikkeling van geslagsrol identiteit. Aanknoop van verhoudinge met ‘n sterk emosionele band. Die ontwikkeling van onafhanklikheid van ouers en ander volwassenes en die vorming van ‘n eie identiteit en sosiale interafhanklikheid. Hulle ontwikkel meer abstrakte en kritiese denke wat hul moet kan toepas in hul akademiese werk.
Ouers kan hul tieners bystaan om die oorgang te vergemaklik deur die volgende:
- Woon die inligting sessies by wat die skool aanbied. Maak die tiener deel van die besluit oor watter hoërskool toe hy of sy moet gaan.
- Erken en stel die tiener gerus dat die gevoelens wat hul mag beleef soos onsekerheid en vrees ‘n normale deel is van die oorgangsfase.
- Ouers kan hulle tieners bemoedig om steeds bande te behou met vorige vriende maar om ook nuwe vriende te maak deur hulle oor te nooi vir sosiale geleenthede by die huis waar ouers ook hulle nuwe vriendekring kan leer ken.
- Help die tiener om ‘n huiswerk en studie skedule op te stel met die nuwe vakke en tydrooster van die skool. Dit is belangrik dat tyd effektief bestuur word en daar ‘n gesonde balans is tussen die aktiwiteite.
- Ouers moet aandagtig luister na wat hul tiener met hulle deel en hulle aanmoedig om probleemoplossing strategieë toe te pas met uitdagende situasies sonder om voorskriftelik te wees. Vermy die “redding refleks” om jou tiener se probleme vir hulle op te los en in te tree met elke botsing met ‘n onderwyser of maat.
- Bemoedig jou tiener aan om betrokke te raak by die skool se extra-kurrikulêre aktiwiteite en wys jou ondersteuning as ouer by die skool aktiwiteite.
- Maak seker jou tiener weet watter hulpbronne daar in die skool beskikbaar is sou daar enige probleme opduik en watter prosesse om te volg soos bv die skool sielkundige of berader, graadvoog ens.
- Moedig onafhanklike en verantwoordelike gedrag aan deur deelname aan familie besluite, spertye vir sosialisering en betrokkenheid by welwillendheids projekte.
- Goeie opbouende kommunikasie is belangrik tussen ouers en tieners waar hulle self-konsep opgehef kan word en openlike gesprekke kan plaasvind oor verhoudings.Tieners moet veilig voel om te kan gesels oor alle sake sonder om te voel dat ouers hulle oordeel.
- Stel gesamentlike en realistiese akademiese doelwitte op saam met jou tiener.
- Leer hulle tegnieke vir ontspanning om sodoende stres te verminder.
- Wees ‘n rolmodel en deel lewenslesse wat geleer is deur die ouer se eie ervaring met uitdagings op skool.
- Fokus op die gedrag wat werk in jou tiener en versterk daardie gedrag. Met betrekking tot die gedrag wat nie werk nie help jou tiener om te dink oor ander maniere om die situasie anders te hanteer.
- Hou by roetines om jou tiener georganiseerd te hou.
Ondersteuning, bemoediging, betrokkenheid en balans is belangrik om te handhaaf as ouer vir die oorgang van die tiener na die Hoërskool.